Die COVID-19 pandemie het almal onkant gevang. Dit terwyl die nasionale afsondering nuwe uitdagings vir skole, hoofde, onderwysers, leerders en ouers bied.
Graag wil ons julle inspireer en motiveer met ons nuwe reeks “Kollig op…” waar ons gaan kyk hoe skole in hierdie tydperk die uitdagings aandurf en die verskillende hulpmiddels wat hulle gebruik.
– Onderhoud met Hoof Riaan Kotze, Hoërskool Upington
(CLICK HERE TO READ THE ENGLISH VERSION)
1. Wat het eerste deur jou gedagtes as hoof gegaan toe jy hoor daar word ’n nasionale afsondering aangekondig?
Ek dink nie enige iemand het besef wat dit regtig is tot jy met die werklikheid daarvan te doen gekry het nie. Om te sien ’n skool is leeg en hier is geen onderwysers nie, toe besef jy hierdie is nou ’n werklikheid.
By Hoërskool Upington het ons die nasionale afsondering as ’n geleentheid gesien, omdat ons al van 2015 af besig is met e-leer en tablette. Dit is jammer dat dit nou met ’n pandemie moes kom, maar nou kan ons die ouers, opvoedkundiges, ons gemeenskap, en dele van ons land wat nog nie daarin glo nie wys dat dit iets is wat werk. Ons het hierdie ding aanvaar en gesê, “Goed, kom ons sien dit as ʼn geleentheid. Hoe gaan ons die geleentheid aangryp?” Ons het toe van daar af gewerk.
2. Hoe het julle voorberei vir die nasionale afsondering?
-
Beplanning – Ons het hierdie ding sien kom deur te lees wat in die res van die wêreld aangaan. So, voordat die onderwysers uit die skool uit is het ons gou vinnig gaan sit en beplan. Elke vakgroep en elke graadgroep het gekyk hoe hulle die leerders kan help. Ons het ’n paar kreatiewe onderwysers wat regtig entoesiasties is om dit te maak werk.
-
Aanlyn klasse – Ons bied tans op Maandae, Woensdae en Vrydae lesse in van ons kritieke vakke soos Wiskunde en Fisiese Wetenskappe deur Zoom aan. Ons het ongelooflike bywoning van die lesse. Een van die onderwysers sê dat bywoning nooit onder 80% is nie. Die onderwysers gebruik Visualizer om hulle lesse op te neem. Die goeie ding van dit is dat hulle later weer die lesse vir die leerders op hulle miEbooks-toepassing kan stuur. Die leerders wat die aanlyn les gemis het, kry die les dan later outomaties op miEbooks wanneer hulle weer aan Wi-Fi gekoppel is.
-
Wi-Fi – Daar is wel uitdagings, omdat nie al die leerders data by die huis het nie. Die skool het net voor die inperking die Wi-Fi gestel sodat dit net buite die mure van die skool ook werk. Sommige leerders kom dan skool toe om die skool se Wi-Fi te gebruik. Hulle sit buite die skool in die kar om hulle miEbooks-toepassing op te dateer. miEbooks laat toe dat alles aanhou werk sonder Wi-Fi sodra dit afgelaai is.
-
Mondelinge – As die nasionale afsondering langer sou aangaan, het die graad 10 – 12 onderwysers die mondelinge aan die leerders gestuur. Die leerders moet nou aan hulle mondelinge werk, dit skryf en terugstuur. As die onderwyser die mondeling goedgekeur het, gaan hulle fisies die mondeling op hulle tablet opneem en vir die onderwyser stuur om hulle te evalueer. Sodoende hoef die leerders nie aan hulle mondelinge te werk wanneer die skool weer begin nie. Dit spaar baie tyd aangesien die mondeling ’n tydrowende faset in die tale is.
-
Nuwe manier van leer – Ons probeer die uitdagings wat daar is bestuur, ons gaan nie noodwendig by almal uitkom nie, maar ons sorg dat ons senior leerders redelik gediens word. Uit die aard van die saak sal ons na die inperking moet evalueer wat gewerk het en wat nie. Die terugvoer wat ons sover van die ouers af ontvang het is baie positief. Oor die algemeen is ek opgewonde wat hieruit gaan kom en ek dink die COVID-19 het ons dalk voorberei vir ’n nuwe onderwys toekoms.
3. Watter rol sou jy sê speel ITSI se tegnologie tydens die afsondering?
-
ITSI het ons help voorberei – Ons is nou al vyf jaar aan die gang. Ek dink met ITSI se hulp het ons die onderwysers en die kinders redelik goed voorberei om tegnologie te kan gebruik. Mens is nooit gereed vir so ’n totale verandering nie, maar met die hulp, ondersteuning en opleiding wat ITSI vir ons in die laaste paar jaar gegee het, kan ons tydens die pandemie net aangaan met skool. Dit help dat die onderwysers reeds opgelei is. Veral die jong onderwysers wat die ITSI-platform gereeld gebruik, kon maklik maniere en planne kry om die skool sisteem te laat loop ten spyte van die situasie. Die e-boeke werk goed. Ons wil van ons kant af sê baie dankie vir ITSI wat dit moontlik maak en vir hulle ondersteuning.
-
Onderwysers kan hul eie boek op ITSI saamstel – As die afsondering langer aanhou, maak dit die skooljaar korter en dus moet ons die kurrikulum aanpas. Ek is in die proses om vir die onderwysers te vra om hulle eie boeke te skep van inligting uit die handboek en verskillende notas. Dit help dat hulle dan alles in hulle eie volgorde kan sit, en dan op die manier hulle eie boek saam te stel. Dit is moontlik om so samestelling op die ITSI-platform te sit.
4. Hoe ervaar die onderwysers by jul skool die nasionale afsondering?
Ek dink dit is vir die onderwysers ’n frustrasie. Daar is altyd ’n onderwyser of twee wat nie so vaardig is met al die nuutste tegnologie nie. Oor die algemeen is ons onderwysers ongelooflik positief. As mens na die statistieke kyk (met behulp van die ITSI-stelsel) kan mens sien dat die onderwysers baie hulpbronne met die leerders deel. Die onderwysers het regtig ingekoop in die situasie en doen hulle bes om ons leerders te ondersteun.
5. Hoe gaan dit met julle graad 12s? Oor die algemeen word daar heelwat bekommernis oor die groep van 2020 uitgespreek.
Ons senior leerders is nogal ’n top groepie en hulle doen moeite om die ander leerders in die skool te motiveer. Ek is rustig oor ons graad 11 en 12 groep, want hulle kry tans die fokus. Dit is vir ons belangrik om deur middel van WhatsApp kontak te maak met die ouers. Ons probeer ook vir die ouers verduidelik hoe belangrik dit is dat die kinders nie nou te ver agter raak nie.
6. Enige raad of advies wat jy vir ander skole kan gee?
-
Kommunikeer – Kommunikasie, kommunikasie, kommunikasie. Ek dink hoe makliker en hoe meer gereeld jy met jou ouers en jou gemeenskap kan kommunikeer hoe beter. Ons gemeenskap wil weet wat aangaan. Hulle wil almal mekaar ondersteun. Dit is nie net ’n kinder-ouer ding nie, dit is ’n gemeenskap ding.
Ander skole sukkel bietjie en is gefrustreerd, want hulle kom nie noodwendig by hulle ouers en kinders uit nie. My raad vir ander skole is hou net kontak met die ouers en leerders. Dit sal hulle rustigheid gee en dit gee ook bietjie rigting en visie vir wat kom.
-
Gebruik die ITSI-sisteem – Die ITSI-sisteem maak dit makliker om te kommunikeer. Omdat ons nou al met die e-leer besig is vir ’n ruk, help dit dat die ouers weet die tablette moet gelaai wees, en dat die leerders nou en dan aanlyn moet gaan om nuwe inligting af te laai. Dit maak regtig ons kommunikasie makliker.
STATISTIEKE TOT EN MET 14 APRIL VIR HOËRSKOOL UPINGTON:
*saamgestel d.m.v ITSI se statistieke funksie
- 93% van leerders is aktief besig met onderrig en leer.
- 87% van leerders het reeds teen 14 April hul tablette opdateer.
- Die getal hulpbronne wat reeds in 2020 na graad 8 – 12-leerders gestuur is, is 2 225.
- Dit beteken die onderwysers werk baie hard en het gemiddeld elkeen tot op hede al 82 hulpbronne aan leerders gestuur. Hulpbronne sluit die volgende in: PowerPoint-aanbiedinge, notas, video’s, volledige lesse, ou vraestelle, memorandums, ens.
- Onderwysers bied daagliks deur middel van Zoom aanlyn lesse aan.
Vir meer inligting of om met ITSI te skakel oor moontlike e-leer oplossings of vir ‘n demonstrasie, kontak ‘n konsultant by sales@it.si of 012 941 1546.